Die goue draad in kommentaar oor die pas afgelope Vrystaat Klank en Klassik (VKK) in Bloemfontein is die hoë standaard van uitvoerings, asook die groot verskeidenheid konsepte en werke. Dié fees is vanjaar die tweede keer gehou.
Nadat dit in 2020 in sy geheel virtueel aangebied is, het die organiseerders dit vanjaar gewaag om gehore toe te laat. Hoewel dit weens pandemiebeperkings tot talle uitdagings gelei het, was die lewende uitvoerings vir konsertgangers en veral vir die feesmusici ’n groot plesier.
Vir die eerste keer in byna twee jaar kon die Kovsies se Odeionteater met sy spesiale ambiance en puik akoestiek betree word. Dit het tot ’n verhoogde konsertervaring bygedra. Daar was ook die verrassing van die modern opgeknapte voorportaal.