In die hart van die 1820-Setlaarsmonument teen die heuwel net buite Makhanda hang Usha Seejarim se beeldhouwerk Impeccable Freedom.
Dit is twee reusevlerke vasgeketting boaan die dak en bestaan uit die tientalle onderkante van aangebrande huishoudelike strykysters. Dit is ’n visueel aanskoulike, selfs imposante werk. Dit is 3 m hoog en elke vlerk weeg 90 kg. Die onderkante van die ysters is in ’n patroon gepak sodat dit vere uitbeeld en die vorm van vlerke aanneem. Spesifiek ’n engel se vlerke. Rysig en mooi sag gerond na bo, maar nouer ondertoe.
Die gedagte eerstens by die kyker is, wie se vlerke sou dit dan wees? Het die engel dalk Dinsdag al keelvol koers gekies oor die Oos-Kaapse vlakte sonder vlerke? Dinsdag is gebruiklik mos die strykdag in huishoudings ná Maandag se wasdag.