Vir baie was hy die toonbeeld van ware geestelike leierskap en visie in die troebelste, gewelddadigste tyd in Suid-Afrika, vir ander was hy ’n opperste verraaier wat volksvreemd opgetree en “sy” mense en gemeente die rug toegekeer het.
Vir sy jong dogter, Liesel, was hy net “Pappa” en haar vormingsjare het met ’n reuse-omwenteling in haar pa en hul gesin se lewe saamgeval.
Oom Bey, my pa, ’n tweemanstuk van die dramaturg Henque Heymans, bekyk die lewe van die NG kerkleier Beyers Naudé uit die oë van sy jongste kind en enigste dogter, Liesel. Hoewel sy as jong kind meestal nie verstaan het waarmee haar pa besig was nie, kry die gehoor juis deur die kind se blik insae in die prys wat Naudé en sy gesin betaal het. Dit is as deel van die NATi Jong Sterre-program op die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer.