Vir ’n insiggewende blik op die lewe van groot Afrikaanse literatuurgeeste wat ons ontval het, was die reeks “Hulde aan helde” nog op elke Literatuurfees ’n treffer.
Soos vorige jare is dit weer deel van die Literatuurfees op die Vrystaat Kunstefees, wat vanjaar van 2 tot 8 Oktober plaasvind, maar anders as vorige jare word dit nie weer by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige en Navorsingsmuseum (Naln) aangebied nie. Dié reeks, asook aanbiedings deur prof. Hennie van Coller, word op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) gehou, waar die res van die fees plaasvind.
Vanjaar se helde is Elsa Joubert, Klaas Steytler, Anna M. Louw en J.C. (Jaap) Steyn en die kundiges wat die helde gaan huldig, is Chris van der Merwe, Leana Lategan en Corlietha Swart.