Hoe kyk jy jou kind in die oë oor die benarde stand van die planeet – die kind wat jy gekies het om in die lewe te bring? Die kind wat met die oormag teen hom of haar te midde van oorbevolking, voedselskaarste, politieke en ekonomiese onrus asook klimaatskommelinge ’n lewe moet bou.
Die morele en etiese implikasies van die mens se doen en late op die planeet word in die drama Tien Duisend Ton op die US Woordfees ondersoek. Cintaine Schutte en Albert Pretorius is te sien in dié tweemansstuk met regie en verwerking deur Nico Scheepers. Dit is ’n vertaling van die Engelse/Britse dramaturg Duncan MacMillan se drama Lungs.
Die akteur Carel Nel is die vervaardiger. Dit is die eerste keer dat hy in dié skoene staan.