Suid-Afrikaners moet nog tot Desember wag vir Spencer, die jongste rolprent wat fokus op die geliefde prinses Diana.
Die eerste lokprent van die biografiese rolprent was lank ’n geheim, maar dis uitgereik kort voor die rolprent se wêreldpremière op die 78ste Venesiese rolprentfees, wat op 3 September begin.
In dié rolprent van die regisseur Rablo Larrain ontmoet die kyker Diana en prins Charles in die laaste dae voordat die nuus van hul egskeiding op die lappe gekom het. Hul huwelik is eintlik lankal verby; die gesin kom vir oulaas byeen vir die Kersfeesvieringe by die Sandringham-landgoed, in Norfolk, Engeland. Daar word geëet, gedrink, gejag en feesgevier, tog blyk vanjaar heeltemal anders as vorige jare. Die kamera fokus in die lokprent onder meer op ’n gespanne gesprek tussen die prins en prinses waar hy haar aanspreek oor haar gedrag voor die paparazzi se kameras.