Ouers wat nog woelwaters in die huis het – maar ook dié wat jare of selfs dekades gelede hul eersteling verwelkom het – sal baie begrip hê vir die uitdagings waarvoor die hoofkarakters in Nappy Blues te staan kom.
Dié komiese kortrolprent – die tweede van nege aflewerings in Netwerk24 en die KKNK se Kortom-kortrolprentprojek – fokus op Marina (vertolk deur Roeline Daneel) en Ludwig (Albert Pretorius) wat met ’n eersteling in hul arms hul voete as nuwe ouers probeer vind.
Anders as ander rolprente wat die onderwerp al van hoek tot kant bekyk het, vertel Carla Smith, die regisseur en draaiboekskrywer, die verhaal vanuit die baba se perspektief: Kykers kyk dus deur die baba se oë na Marina en Ludwig se wipwarit om ouerskap baas te raak.