Minder as drie maande voordat die Venesiese Biënnale op 23 April in Italië begin, het die departement van sport, kuns en kultuur eindelik ’n aankondiging gedoen oor Suid-Afrika se deelname aan dié tweejaarlikse kunsgebeurtenis. Dit word allerweë gesien as die vernaamste vertoonvenster van kontemporêre kuns wêreldwyd.
Met The Milk of Dreams as oorkoepelende titel vir dié biënnale, voorsien die oorhoofse kurator, Cecilia Alemani, ’n “optimistiese uitstalling met ’n viering van kuns en die vermoë wat kuns het om alternatiewe wêreldbeelde en nuwe bestaansmoontlikhede te versin”.
Die Johannesburgse kurator Amé Bell is aangewys as die kurator van die Suid-Afrikaanse paviljoen vir dié 59ste biënnale. Die werk van drie kunstenaars word ingesluit: Roger Ballen, Lebohang Kganye en Phumulani Ntuli.