Die Nasionale Kunsteraad se direksie het Rosemary Mangope, die raad se uitvoerende hoof, en Clifton Changfoot, die raad se finansiële hoof, geskors.
Luidens ’n mediaverklaring het die raad dié stap gedoen hangende ’n ondersoek oor die bestuur van R300 miljoen wat die raad danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het.
Die raad was veronderstel om dié bedrag tussen Desember (2020) en Maart vanjaar uit te deel aan kunstenaars wie se inkomste weens die Covid-19-pandemie daarmee heen was. Die beursies van kunstenaars wat suksesvol om dié finansiering aansoek gedoen het, was egter teen 17 Februarie steeds dolleeg.