’n Ondersoek na kunstenaarskap aan die hand van die lewe en werk van die Suid-Afrikaanse pionierkunstenaar Irma Stern open Donderdagaand in die Arena-teater van die Kunstekaap in Kaapstad.
In Irma word multimedia gebruik om die visuele kunstenaar se dilemma uit te beeld as daar voorstellings van ander mense gemaak word. Stern (1894-1966) kom die laaste paar jaar gereeld onder skoot vir haar “eksotiese” uitbeeldings van mense van ander rasse en kulture as sy. Stern was welgesteld en kon uitgebreide reise onderneem na onder meer Europa, Zanzibar, die Kongo en Senegal en het ook wyd in Suid-Afrika gereis. Haar werk is gereeld in die nuus vir die astronomiese bedrae wat dit op veilings haal en die rekords wat dit opstel wat verkooppryse betref.
Irma is saamgestel deur die Nederlandse teatermaker Eva Bartels en Iman Isaacs, ’n Kaapse kunstenaar, regisseur en teaterskepper. Saam verken hulle aan die hand van die lewe en werk van Stern vraagstukke soos “eksotisme”, politieke en niepolitieke keuses in die skep van kuns, kulturele kennis, asook kennis wat van vroeë geslagte oorgedra word, ’n sin van behoort, ’n toekoms waar vroue ’n al hoe groter rol gaan speel en die rol van kuns en teater in aktivisme.