Die gerekende kunsskrywer en resensent Ivor Powell is verlede week ’n paar dae voor sy 66ste verjaardag dood. ’n Stil, skugter man van diep oortuiging en wye belangstelling, was hy ook vir ’n wyle ’n vindingryke speurder-navorser van die destydse Skerpioene. Maar dis om sy insiggewende kommentaar oor kuns, essays en resensies wat hy in die kunswêreld naam gemaak het.
Dat Powell, wat in Kimberley gebore is, in sy jonger dae lid van ’n dinamiese Dada-kunsgroep was, het waarskynlik die fondament gelê vir sy merkwaardig fynsinnige kunskommentaar. Dit het hom ook een van die mees nougesette speurder-navorsers in die polisiediens gemaak. Laasgenoemde – as ondersoeker in die benewelde wêreld van die geheime diens – het uiteraard vyande gekweek. As kunskritikus had hy geen gelyke nie en was sy unieke bydrae tot ons kulturele landskap helder van oog en diep van insig.
Dit sou nie verkeerd wees nie om te sê dat alles wat Powell oor die kunste geskryf het, ’n positiewe evaluering of herwaardering van ons visuele kunswêreld geïmpliseer het. Sy tegniek, as dít die regte woord is, wat kunskritiek betref, was nooit soveel ’n kritiese mening of waarde-mening nie as wat dit ’n ondervraging van die kuns of kunswerk was. Kuns was vir hom ’n uitdaging – net soos sy werk as ongenaakbare speurder hom in dieptes ingelei het.