Sy het grootgeword omring deur tantes en oumas wat graag hul hande in die grond gedruk het, en mooi tuine versorg het.
Dié oorgeërfde liefde vir plante en die natuur vind neerslag in die kunstenaar Annelie van Rensburg se besonderse pottebakkerswerk waarop Suid-Afrika se fauna en flora pronk. Dit is nou so gesog hier en oorsee dat sy nie kan voorbly om werk te skep nie.
“Ek het in die Oos-Kaap grootgeword, op ’n hoewe so 21 km buite Oos-Londen. Ek was van kleins baie lief vir die natuur en het grootgeword omring deur tannies en oumas wat tuinmaak. Tannie Velma se plaastuin was groot en gevul met als wat kon groei. My ouma Christie het nog op 83 tuingemaak uit haar rolstoel uit. My ma sien steeds die kleinste ou blommetjie raak en sal betowerd staan as sy iets sien wat mooi blom en natuurlik dadelik gaan naslaan om uit te vind wat dit is.”