Die Nasionale Kunsteraad (NAC) het by monde van Julie Diphofa, sy waarnemende hoof, erken dat hy lelik drooggemaak het met die toekenning van noodfinansiering aan Suid-Afrikaanse kunstenaars.
Diphofa het Woensdag met sowat 15 kunstenaars in die NAC-kantore in Newtown, Johannesburg, vergader nadat die operasangeres Sibongile Mngoma Maandag ’n sitstaking in die einste kantoor van stapel gestuur het. Sy het boonop Woensdagaand in die kantoor oornag.
Mngoma het dit gedoen om haar stem dik te maak oor R300 miljoen se noodfinansiering wat die raad danksy die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het en wat hulle veronderstel was om teen Desember reeds aan kunstenaars uit te betaal.