Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), gaan haar moue oprol en self ’n poging aanwend om ’n geskil oor noodfinansiering tussen die Nasionale Kunsteraad (NAC) en ’n groep sitstakers op te los.
Die geskil hou direk verband met die wanbestuur van R300 miljoen se noodfinansiering wat die kunsteraad verlede jaar as deel van die presidensiële stimulusprogram vir werkskepping (PESP) ontvang het.
Die kunsteraad was veronderstel om die geld reeds in Desember aan kunstenaars uit te betaal sodat hulle kunsteprojekte kon skep wat teen 15 Maart ten einde moes loop. Die kunsteraad kon egter weens ’n “wiskundige fout” teen Donderdag nog net sowat R198,8 miljoen aan 1 229 begunstigdes uitdeel.