Die mens se eeue oue bekoring deur die hemelruim en hemelliggame se invloed op aarde, wat op sy beurt dié bekoring aanvuur, is onder die soeklig in ’n multimedia-uitstalling wat tans in die Pretoria-kunsmuseum besigtig kan word.
The Hole bestaan uit foto’s, video’s, installasies van voorwerpe uit die natuur, teks en klank, en dit fokus spesifiek op die mensdom se wisselwerking met mensgemaakte gate in Gauteng, soos myne, asook natuurlike gate, soos kraters, wat in dié provinsie deur hemelliggame veroorsaak is.
Die uitstalling is saamgestel uit ’n argief bekend as Hemelliggaam or The Attempt To Be Here Now, wat oor die afgelope vyf jaar deur die Italiaanse visuele kunstenaar Tommaso Fiscaletti en die Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar Nic Grobler met onder meer foto’s, video’s, kuns en dokumente aangevul is.