Kalashnikovv – Braamfontein, Johannesburg
Skilderye van ’n oordaad blomme was in die sogenaamde Nederlandse Goue Eeu van die 17de eeu goedkoper as die ware Jakob – snyblomme. Boonop kon die kopers van so ’n stillewe hulle jaarin en jaaruit verlustig aan ’n rojale boeket, en dan nie net ten opsigte van kleur en vorm nie; botaniese aspirasies kon op dié manier ook bevredig word.
Maar meer as bloot dekoratief, met inbegrepe die spel van lig en vorm en tekstuur en wat nie al nie, en daarmee saam die beliggaming van die glorie wat gekom het deur die handeldryfvermoë van die Nederlanders, was die gedagte van vanitas – soos verwoord in Predikers “alles kom tot niks . . . tot niks” – onderliggend aan dié blomstudies.