Die operasangeres Sibongile Mngoma het Maandag ’n sitstaking in die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantore in Newtown, Johannesburg, gehou om haar stem oor die uitbetaling van noodfinansiering dik te maak.
Mngoma, wat ook president van die Im4theArts-beweging en die South African United Cultural and Creative Industries Federation (SAUCCIF) is, het om 09:00 by die NAC-kantore ingestap en geweier om die perseel te verlaat totdat die raad ’n lys aan haar verskaf van al die kunstenaars aan wie hulle noodfinansiering verskuldig is.
Sy is eindelik eers omstreeks 18:00 huis toe – sonder die lys, maar met ’n belofte dat sy dit teen Dinsdag sal ontvang. Indien nie, gaan sy haar Woensdag om 09:00 weer tot die NAC se kantore wend.