Ons herinneringe is grootliks versinsel en dit verander die hele tyd, in sy jongste tentoonstelling “sunstance of Shadows” bekyk Paul Emmanuel die aard van ons onthou. Johan Myburg het gaan kyk.
Daar is ’n verskil tussen ’n ervaring en die merk wat die ervaring laat. Namate die ervaring vervaag, is dit die sintuiglike merk wat die ervaring lewend hou. Soos met ’n foto in ’n album wat mettertyd die oorhand kry oor die oomblik toe dit geneem is, raak die merk of indruk of die manifestering van die oomblik mettertyd meer dominant.
Dié primaat van die sintuiglike indruk is iets wat Paul Emmanuel as kunstenaar boei en wat hy in sy kuns verreken – of dit nou die name is van gesneuweldes wat oorgebly het lank nadat die oorlog verby is (The Lost Men, ’n voortgaande projek sedert 2004), en of dit die skaduwees van Hirosjima is – byvoorbeeld die skaduwee van ’n man wat op die oomblik van die atoombomontploffing in 1945 op ’n trap agtergelaat is.