Die Suid-Afrikaanse kunstebedryf, wat sedert die begin van die Covid-19-pandemie sukkel om weer op die been te kom, is met die instelling van die aangepaste vlak 4-inperking weer lamgelê.
Nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het dat hy weens die teenwoordigheid van die Delta-variant van die koronavirus in Suid-Afrika genoop is om strenger inperkings in te stel, is saamtrekke, buiten ’n handvol uitsonderings, landwyd verbied.
Dít beteken vir die kunstebedryf dat alle rolprent- en ander teaters, museums, galerye, argiewe en biblioteke, asook enige plek waar mense bymekaarkom vir aktiwiteite wat verband hou met kultuur, vermaak en/of ontspanning vanaf Maandag (28 Junie) tot en met ten minste 11 Julie geheel en al gesluit sal wees.