Die nuwe album van ’n kluisenaarkunstenaar is ’n spesiale lekkerte midde ’n tyd van isolasie. Danie Marais het na Fiona Apple se jongste geluister.
Die Covid-19-pandemie het musikante platgeslaan. In die era van musiekstroomdienste is konsertoptredes die grootste bron van inkomste. Maar as jy ’n kluisenaarkunstenaar is wat jou vorige konserttoer (in 2012) afgestel het omdat Janet, jou geliefde pitbull, sterwend was en jy sedertdien hoofsaaklik by die huis gebly het, soos Fiona Apple, dan is April 2020 ideaal om ’n tuis-opgeneemde plaat met die titel Fetch the Bolt Cutters uit te reik.
Apple was 18 toe haar platinumverkoperdebuut, Tidal (1996), verskyn en ’n Grammy gewen het. Met die aanvaarding van ’n MTV-toekenning in 1997 het sy egter verklaar: “This world is “bull****”. Sy het jong mense in haar kort toespraak gemaan om nie lewens te lei volgens wat hulle dink die sterre dink is cool nie.