Bruce Liu is feitlik eenparig op die onlangse 18de Internasionale Fryderyk Chopin-klavierkompetisie as wenner van die goue medalje aangewys. Paul Boekkooi het opnuut ontdek watter eise dié komponis aan pianiste stel.
Die Chopin-klavierkompetisie in die Poolse hoofstad, Warschau, duur bykans ’n volle drie weke. Dit word sedert 1955 slegs elke vyf jaar gehou. Die 18de kompetisie van die afgelope Oktober moes in 2020 plaasgevind het, maar is weens Covid-19 met ’n jaar uitgestel.
Die puntetellings wat deur die paneel beoordelaars ná die finale ronde aan hul drie voorkeurdeelnemers toegeken is, was uiters na aan mekaar. Dít opsigself is ’n situasie wat hom minder selde voordoen. Daar is, onvermydelik, intense gedagtes gewissel oor die meriete van die drie potensiële “wenners”. Ná lange oorweging deur die paneel van 17 lede, is Bruce Liu as die wenner aangewys.