Aanlyn vertonings was die afgelope nege maande weens die Covid-19-pandemie Suid-Afrikaanse kunstenaars se enigste lewenslyn. Talle sê egter gehore by aanlyn konserte is skoonveld. Christiaan Boonzaier het met kunstenaars oor hul ervaringe gesels.
Die Kirvan Fortuin-stigting het in Augustus ’n huldeblykkonsert aanlyn aangebied ter nagedagtenis aan die ontslape danser en choreograaf Kirvan Fortuin, wat in Junie in Macassar vermoor is.
Lindsay Louis, hoof van die stigting en voormalige diplomaat in Nederland, het in Julie aan Netwerk24 gesê dat talle sangers, dansers en digters aan die huldeblykkonsert wou deelneem om hul hoed vir die 28-jarige te lig; daarmee saam was dit hul gesamentlike doelwit om genoeg fondse in te samel sodat die stigting ’n kantoor in Macassar kan open, beurse aan jong dansers kan toeken, en ’n jaarlikse Kirvan Fortuin-lesing kan aanbied sodat sy lewenswerk voortgesit kan word.