Die kans om in ’n simfonieorkes te speel, is nie almal beskore nie – maar daaraan wil die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad iets doen.
Pieter Rademeyer, skoolhoof, Geruan Geldenhuys, musiekhoof, en die komponis Hans Huyssen het ’n gemeenskapsorkes begin om orkesinstrumentaliste – jonk en oud, amateur of professioneel – die geleentheid te bied om saam in ’n orkes musiek te maak.
Geldenhuys sê aan Netwerk24 hy, Rademeyer en Huyssen het aanvanklik oor die toekoms van musiek in die stadskom gesels en met die idee gespeel om ’n platform te skep waar talle skole en instansies “bloot vir die lekkerte” saam musiek kan maak.