Die Foo Fighters se nuwe album, Medicine at Midnight, gaan nie jou siening oor hulle óf die wêreld verander nie, maar dié “Saterdagnagpartytjieplaat” het steeds harde voet-in-die-hoek-rock wat jou noop om saam te brul, skryf Danie Marais.
’n Rock ’n roll-ligpunt aan die einde van ’n duister 2020 was die trommeltweestryd op YouTube tussen die grunge-legende Dave Grohl (51) en Nandi Bushell (10) van Ipswich in Engeland. Nadat sy Grohl met ’n vurige weergawe van sy Foo Fighters se 1997-treffer “Everlong” uitgedaag het, het Grohl aanlyn aangetree vir die geveg.
Nadat albei hul bes gedoen het met Them Crooked Vultures (nog ’n groep waarin Grohl gespeel het) se “Dead End Friends” het hy die stryd gewonne gegee.