Die Stellenbosch Universiteitskoor beklee nie sonder rede die topplek op Interkultur se wêreldranglys nie. Die koor het tot nou 1,1 miljoen aanlyn besoeke gelok vir sy vertolking van “Never Enough” uit die musiekspel The Greatest Showman en 1,5 miljoen met die lied “Some Nights” deur Fun.
Die koor, die oudste in Suid-Afrika, is in 1936 gestig en staan onder leiding van André van der Merwe.
Hy was ook die dirigent toe die koor in 2014 in Letland die hoogste persentasie in die geskiedenis van die Wêreldkoorspele toegeken is en al drie kompetisieafdelings gewen het. In 2016 het die koor die prestasies op die Wêreldspele in Rusland herhaal.