Die internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse komponis en opvoeder prof. Peter Klatzow is Woensdag in Kaapstad oorlede. Kenners en van sy oudstudente neem saam met Christiaan Boonzaier sy lewe en werk in oënskou.
“Wanneer ek snags in die bed lê, luister ek na musiek, maar ek dink hééltyd aan musiek, elke dag, ongeag wat ek doen. Wanneer ek voor die stoof staan en kook, dink ek aan die volgende paar mate; wanneer ek stort, dink ek aan die volgende paar mate . . .”
Só, in sy eie woorde, was musiek en “die volgende paar mate” dagin en daguit onlosmaaklik deel van die gesiene komponis prof. Peter Klatzow se hele bestaan – en dit is g’n oordrywing nie. In gesprek met Peter Bode op die webwerf Theatre Lives het Klatzow op kamera gedeel dat sy vroegste herinnering as twee- of driejarige seun dié van musiek is, meer spesifiek die polsende ritme en welbekende melodie van Maurice Ravel se orkestrale Boléro.