Die terugkeer van die “oud-Affie” Pieter Grobler na sy alma mater-verhoog is ’n groot geleentheid. Hy het ver paaie geloop en groot hoogtes bereik sedert hy een van die eerste groep leerlinge was wat musiek as vak aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria kon neem.
Grobler is genooi om vandeesmaand in die Aubade-konsertreeks van Momentum Beleggings Aardklop op te tree.
Dié klavierdosent aan die konservatorium van die Universiteit Stellenbosch (US) het besluit om die yster te smee terwyl hy in die noorde is, en twee konserte op een dag aan te bied. Die oggend van 4 Junie tree hy by Affies op en die middag met ’n effens aangepaste program in Glenshiel.