Onder die titel Prismatica is daar iets buitengewoons in die Suid-Afrikaanse musieklewe bereik: Die dokumentering van kort, eietydse klavierstukke deur lewende Suid-Afrikaanse komponiste, uitgevoer deur Laura Pauna. Paul Boekkooi et daarna geluister
Die versameling, uitvoering en uitreiking van ’n projek soos dié vereis ’n wydlopende insae in die stand van komposisie in ons land en dan spesifiek rakende dié vir soloklavier.
Dit het selde of waarskynlik nog nooit tevore gebeur dat so ’n spektrum van plaaslike werke deur ’n enkele pianis uitgevoer en opgeneem is nie. Die luistertaak word bowendien beloon deur die gemak waarmee ’n mens jou met elkeen kan identifiseer. Dit is ’n ontdekkingstog wat ’n sterker band tussen komponis en luisteraar ontlok.