Die belangrikheid van nuwe komposisies en om ’n behoorlike inkomste uit die beoefening van musiek te verdien blyk al hoe meer aandag te geniet.
Die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro) het pas ’n inspuiting van R2,5 miljoen aangekondig om juis dié twee aspekte ’n hupstoot te gee. Dit volg minder as ’n week ná ’n aankondiging van ’n kompetisie wat onder die vaandel van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) vir komponiste aangebied word asook beurse wat Samro gee vir musikante wat belang stel in ’n kursus wat jou leer hoe om musiek as ’n sakeonderneming te bestuur. Dié kursus, Music Business Short Learning Programme, word deur die Boston City Campus aangebied.
Die komposisie-kompetisie bied benewens prysgeld ’n komponisverblyf van ’n jaar en die uitvoering van die wenkomposisies deur die KFO.