Aanhangers van Smokie sal nou tot Maart moet wag nadat die Engelse rockgroep se Desember-toer in Suid-Afrika weens “die regering se beperkings op openbare byeenkomste, teaters, arenas en internasionale lugreise” uitgestel is.
Dit is die tweede keer dat dié toer uitgestel word. Netwerk24 het vroeër vanjaar berig dat die groep, bekend om liedjies soos “Living Next Door to Alice” en “Needles and Pins”, se drie konserte in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria in Maart vanjaar weens die begin van die staat van inperking na Desember verskuif is.
Volgens ’n verklaring van die toerorganiseerders sal die konsert by GrandWest in Kaapstad, wat op 11 Desember aangebied sou word, nou op 26 Maart plaasvind. Die konsert by Carnival City in Johannesburg (12 Desember) is nou op 27 Maart, en die konsert by Time Square in Pretoria (13 Desember) is aangeskuif tot 28 Maart.