’n Concerto van Wieniawski was ’n uitgemaakte saak vir haar program toe die 23-jarige Turks-Georgiese violis Veriko Tchumburidze gevra is om haar Suid-Afrikaanse debuut saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) te maak.
Nadat sy die 15de Internasionale Wieniawski-vioolkompetisie in 2016 gewen het, loop sy oor van dankbaarheid vir die geleenthede wat vir haar te beurt geval het en laat nie ’n kans verbygaan om dié 19de-eeuse Poolse komponis met haar spel te gedenk nie. Soos in die KFO se somerfees in Kaapstad.
Nog ’n “nuweling” wat op 23 Februarie op die stadsaal se verhoog sal verskyn, is die Amerikaanse dirigent Brandon Keith Brown. Hy woon deesdae in Berlyn en tree gereeld saam met Duitse orkeste op.