Eon de Vos is nie bang om by ’n oop deur in te loop nie. Maar let wel – hy storm nie in nie. Hy benader elke nuwigheid versigtig en hy hou by sy leuse van stap in, stop, hou terug en luister na wat mense sê.
Dis presies wat hy nou as nuwe stasiebestuurder van die gemeenskapsradiostasie Fine Music Radio (FMR) doen. Hy is eers van 1 Julie af in die pos, maar hy is reeds daar om ’n paar programme aan te bied, die mense te leer ken en ingelig te wees oor wat die luisteraars verwag. Hy neem die pos oor by Mark Jennings, wat sewe jaar die stasiebestuurder was en nou na Brittanje verhuis.
De Vos en sy gesin het in 2011 van Johannesburg af Kaap toe verhuis en hy het in 2021 as vrywilliger by FMR begin werk nadat hy in 2020 by ’n lugdiens afgetree het. Hy luister van die begin af op aanbeveling van sy seun na FMR.