Die dramaturg Nico Scheepers se toneelstuk Amper Vrystaat, wat reeds met groot sukses op die land se kunstefeeste opgevoer is, is nog tot Sondag in die Baxter-teater in Rondebosch op die planke.
Dit is die laaste toneelstuk in die teater se Afrikaanse seisoen, wat ook die stukke Nêrens Noord-Kaap en Ek wens, ek wens ingesluit het.
Amper Vrystaat handel oor drie vervreemde susters wat mekaar ná jare weer ontmoet by hul ma se begrafnis op die dorpie Amper in die Vrystaat. Daar is vreemde omstandighede om hul ma se dood; die dorp gons behoorlik. Dit is ’n “komedie met hart”; ’n “storie met waarheid wat elke mens raak soos die drie mekaar weer probeer vind en hul verlies van hul ma probeer verwerk”.