“Ons leef in ’n tyd van ’n kultuur van uitwissing – als wat voorheen was, moet vernietig word. Ek studeer geskiedenis juis om te verstaan wat voor ons gekom het, om te besin oor wat gebeur het en hoe dit by die hede aansluit.”
Aan die woord is Amber Fox-Martin, mederegisseur en navorser van die dokkie, A Feast in Time of Plague, wat die werk van ’n klompie Afrikaanse teaterskeppers by die destydse streekraad Kruik in Kaapstad van die jare 70 tot 90 volg. Dit is binnekort op die dokumentêre rolprentfees Encounters te sien.
Die dokkie is grootliks te danke aan die regisseur Marthinus Basson, sê Fox-Martin. “Ek het al baie met Basson saamgewerk en sy stories oor dié tyd by Kruik is fassinerend. Ons het ook voorgraads (aan die Universiteit Stellenbosch) geleer van die streekrade, en als het nie vir my gestrook nie. Ek het besluit om self ondersoek in te stel.”