Wie weet nie wie Shirley Valentine is nie – die Britse middeljarige middelklas-huisvrou wat met haar kombuismuur gesels en na meer in die lewe smag. En dan die “onbehoorlike” ding doen deur vir haar man ’n briefie op die yskas te laat en saam met ’n vriendin vir ’n vakansie na Griekeland vertrek. Die vrou wat dáár op haarself en die lewe verlief raak.
Dit is dié bekende karakter wat Natasha Sutherland vandeesmaand op die verhoog van die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg en later ook in ander stede gaan vertolk.
Sutherland, een van talle hoopvolle aktrises wat ’n oudisie vir die rol afgelê het, “voel geëerd” dat dit aan haar toevertrou is, maar besef ook die uitdaging om aan so ’n bekende karakter gestalte te gee.