Terwyl Rex met al sy gemene streke kykers van die kykNET-sepie Binnelanders die harnas injaag, reken Jacques Adriaanse, wat dié rol vertolk, mense het meer gemeen met hom as wat hulle sal erken.
“Ek en Rex verskil wel baie van mekaar, maar ek het begrip vir sy situasie. Sy omstandighede dryf hom tot hierdie aaklige dinge wat hy doen.”
Rex het onlangs langs Okkie (Ben Kruger) en Ilse Ferreira (Hannelie Warren) ingetrek en hy is allesbehalwe ’n goeie buurman. Hy teister een van hul loseerders en speel harde musiek. Hy het ook al Okkie se skoonseun, Louis (Germandt Geldenhuys), se motor se band afgeblaas en kos in Okkie se restaurant doelbewus laat bederf, wat klante voedselvergiftiging laat kry het.