Die Amerikaanse televisienetwerk HBO en die stromingsdiens Netflix het vir die soveelste opeenvolgende jaar weer die meeste Emmy-benoemings gekry.
Nadat Netflix verlede jaar met 160 benoemings lag-lag teenoor HBO se 107 die voortou geneem het, is die bordjies vanjaar net-net verhang: Deadline berig HBO het Dinsdag 130 benoemings gekry, ’n enkele benoeming meer as Netflix.
TV-vrate sal egter tot 19 September moet wag om uit te vind wie eindelik die meeste Emmy-beeldjies huis toe neem. Netflix het dié stryd verlede jaar ondanks al sy benoemings verloor toe hy net 21 pryse kon wen teenoor HBO se 30.