Sy dink die
toekoms van sjefs is die blinkste nóg, sê die geliefde TV-sjef en kosskrywer
Errieda du Toit. “Ons post-Covid wêreld hou soveel uitdagings in – en sjefs en
restaurante speel ’n besonderse rol om mense weer bymekaar te bring. Die tafel
is tog die middelpunt van ons lewe as sosiale wesens. Ons het ’n baie
emosionele verbintenis met kos en die goeie sjef weet hoe om kos te gebruik en
benut om mense goed te laat voel.”
Ons gaan ook al hoe meer na sjefs kyk vir oplossings vir ’n wêreld onder druk, meen Errieda, veral wanneer dit kom by tegnieke vir hoe om elke deel van die dier of plant te benut en selfs hoe om spaarsamig met kos om te gaan en die mees nederige bestanddeel op te hef.
Sy sal self nie inskryf vir hierdie soort kompetisie nie, sê Errieda oor Kookpunt waar sy vandeesweek haar plek as gas-beoordelaar inneem. “Ek sal graag eerder die jonger geslag die kans wil gee om hulself uit te daag; ek sal eerder agter die skerms staan en hulle aanmoedig.”