Erns Grundling vat weer die langpad, die keer nie in ’n vreemde land nie, nee, hy het sommer by sy eie voordeur in Kaapstad met sy stapstok en rugsak in die pad geval en die Wes-Kaap tot by Kaap Agulhas deurkronkel.
Die roete, genaamd Pelgrimstog van Hoop, loop verby verskeie kerke, sendingstasies en vryheidsmonumente en is dus meer as net ’n staptog. Dit is ook ’n leersame ervaring wat TV-kykers van einde vandeesmaand saam met Grundling in die program Elders sal kan volg, terwyl dié wat kans sien vir sowat 350 km dit self kan aanpak.
Grundling sê die teoloog Frederick Marais van Stellenbosch het die roete uitgelê nadat hy in 2012 die Spaanse Camino gestap het en dit hom begeester het om iets soortgelyk in Suid-Afrika te skep.