Dink aan die hart as ’n motor se enjin – as sy tyd uit is, raas daardie enjin, die revs gaan op en dit het geen krag nie. Dieselfde gebeur as jou hart uit ritme klop, sê die internis dr. Rust Theron. “Soms ervaar mense hartkloppings of is hulle bloot moeg, maar as hierdie soort hartkloppings voortduur sonder ’n diagnose, kan dit jou lewe kos. Die hart word dan basies soos ’n veer wat te veel gerek word en nie meer wil of kan terugbons nie. Die hartspier verswak en dit lei tot hartversaking.”
’n Ander groot gevaar wanneer jou hart uit ritme klop, is dat daar dan bloedklonte in die hart kan vorm. Indien so ’n bloedklont ontsnap en in jou bloedstroom beland, verhoog dit jou risiko vir beroerte, voeg Theron by.
“Ons probeer altyd eers die regte ritme diagnoseer en die hartritme regkry. Soms moet ’n mens aanvaar dat dit nie sal gebeur nie; dan probeer ons die spoed beheer – die pasiënt moet dan bloedverdunners gebruik om die risiko vir bloedklonte te verminder, maar verdunners verhoog weer die kans op inwendige bloedingskomplikasies. Ons probeer dus altyd eers die ritme van die hart weer regkry.”