Suid-Afrikaanse aanhangers van die supergewilde Amerikaanse komedie Friends kan maar ontspan – die langverwagte Friends-reünie gaan wel in Suid-Afrika uitgesaai word.
Hoewel plaaslike aanhangers bekommerd was dat Friends: The Reunion slegs op HBO Max – ’n stromingsdiens wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie – uitgesaai gaan word, was al hul vrese verniet.
MultiChoice het Dinsdag in ’n mediaverklaring gesê die reünie sal Sondag om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai word. Dit sal vanaf Maandag op Showmax beskikbaar wees.