Daar wag hope aksie, sê die reeks se produksiebestuurder, Anze Lotz. “Al die spanne het vir Karooboeries uitgestem – maar dit was nie die einde vir die manne nie en hulle is toe met ’n reddingsboeipot gered. Gaan die twee ’n alliansie vorm om in die kompetisie te bly of is hul messe nou uit vir die res? Gaan die span wat vanaand uitval strategies uitgestem word of gaan dit op meriete wees?”
Collin van Karooboeries
In hierdie game moet ’n mens jou alliansies goed kies en die kat maar liefs eers uit die boom kyk. Ons het verskeie kere gedink dis die einde van die pad, want ons pot het al gebrand – dalk was dit van pure opgewondenheid oor ons al so ver gekom het! Ons kon darem gelukkig nog ons pot red. Maar hier is ons steeds en nou is dit game on. As ek terugdink, sou ek sê ons moes dalk meer betrokke gewees het by die ander spanne en nie so eenkant gewees het nie. En indien ek raad kon gee, sou ek niks aan ons kosreis wou verander nie. Ons het nooit probeer om anders te wees nie. Ons het gedoen wat ons uit die staanspoor gesê het ons wou doen: om die Karoo na die tafel en na die potte te bring. Ek sou wel wou byvoeg: Moenie arrogant wees as jy vir hierdie soort kompetisie inskryf nie, jy kan jou vingers brand. Handhaaf liefs ’n lae profiel en wys wat jy kan doen deur die kos wat jy kook. Moet ook nie te veel probeer doen nie – doen wat die beoordelaars vra en doen dit op die smaaklikste manier denkbaar.