Mark Saunders, vervaardiger en regisseur, oor die storie agter Outopsie:
’n Klompie jare gelede was ek aangestel as die redigeerder van die heel eerste seisoen van Huisgenoot Ware Lewensdramas. Dit was die eerste keer dat ek betrokke was by die ware misdaad/dokumentêre genre, maar ek het dadelik geweet dit is waar ek wil wees. Van daar af het ek as regisseur verder gegaan met die volgende vier seisoene van die reeks. Gedurende die inperkingstyd het ek met die idee vorendag gekom om na misdaad te kyk uit die oogpunt van ’n forensiese patoloog. Ek het die patoloog, dr. Hestelle van Staden, die eerste keer ontmoet terwyl ons besig was om ’n vorige onderhoud te verfilm vir Ware Lewensdramas en het haar dadelik gekontak om te hoor of sy betrokke sal wil wees. Ons het ’n paar idees rondgegooi en dit het vinnig duidelik geword dat ons iets besonders beet het.
Hestelle het al aan soveel interessante sake gewerk en dit het nie lank gevat om te besluit op die inhoud van die dertien episodes nie. Ons het besluit om te fokus op ’n wye spektrum van onnatuurlike dood: moord, selfdood, vergiftiging. Daar is selfs ’n geval waar ’n persoon deur ’n kameelperd gedood is.