Rolene Strauss het al verskeie vroue se harte verbly as weeklikse raadgewer op Minki wanneer sy stoel nadertrek om te gesels oor die dinge waarmee vroue sukkel. Daar was die belangrikheid van selfbevestiging, hoe jy kritiek moet wys wie baas is, wat die reëls is wanneer jy grense moet stel, en als van selfdissipline tot tydsbestuur en goeie kommunikasie, om net ’n paar te noem. Maar as sy nou terugdink oor die heel belangrikste wenk, sou sy die volgende graag weer wou benadruk: “Moet nooit jou identiteit vind in die dinge wat konstant verander, soos hoe jy lyk, wat jy bereik, ensovoorts, nie. Soek dit eerder in wie God jou gemaak het om te wees.
“Ek dink die lewe as ’n vrou is reeds baie uitdagend met al die verskillende rolle wat ons moet vervul, en dis makliker as ons weet dat ons nie alleen is nie. Daarom deel ek en Minki graag ons eie struikelblokke sodat ons almal by mekaar en deur mekaar se ervarings kan leer.”
Minki sê: “Ek onthou die dag toe sy gekroon is soos gister. Ons was in Londen en ek het snot en trane gehuil. Ek was opgewonde en so bly vir haar dat ek hoendervleis gekry het. En natuurlik was dit wonderlik toe ek haar jare later uiteindelik kon ontmoet en self sien watter mense-mens sy regtig is.”