Sy wou al ’n dokter word vandat sy klein was en daardie droom het nooit ooit verander nie, vertel die seksuoloog van My Sexual Health, dr. Elna Rudolph, vir Haidee Muller-Isaacs. En sy deel alte graag haar passie en kundigheid om ander te bemagtig op ’n manier wat verantwoordbaar is. En dít is vir haar ’n absolute voorreg.
Waar het jy grootgeword en watter herinneringe koester jy van daai dae?
Ek het grootgeword op ’n plaas buite Parys in die Vrystaat. Daar het die werkers my die Sotho naam Matseleng gegee. Dit beteken “moeder van die pad”. Ek onthou hoe ek die pad gevat het op my driewiel-fietsie na die plaas langsaan waar my ouma gewoon het, want ek wou daar gaan kuier. Selfs toe ek vier jaar oud was, was ek nie bang om die pad te vat in die rigting van my drome nie.