Kykers kry die geleentheid om te kuier in die huise van gesinne wat dalk heeltemal van hulle verskil, sê Amor. “Dis die soort mense wat dalk glad nie deel van hul sirkel is nie. Soms is dit fassinerend, partykeer vreesaanjaend, ander kere is dit hartseer en soms kan dit selfs jaloesie verwek omdat ander mense se lewens soveel gelukkiger is as jou eie.”
Hierdie derde seisoen van Myne vir joune is die beste nóg, sê die reeks se vervaardiger, Amor Engelbrecht. “Ons kon gesinne van regoor die land met mekaar uitruil te danke aan ons borg, Safair. Gesinne met uiteenlopene politieke opinies, agtergronde, sosiale status en geloofsisteme het huise geruil om te kyk of hulle mekaar kan leer verstaan en aanvaar. Soms werk dit uit, soms nie. Dink aan die platteland teenoor die stad. Veganiste teenoor jagters. Arm en ryk. Diegene wat glo aan COVID-inentings en die anti-vaxxers. Lesbiërs teenoor diegene wat glo dat daardie leefstyl deur die Bybel verbied word. Ons het ook hekse met Christene uitgeruil. In die Oos-Kaap het stadsjapies selfs op ’n volhoubare plaas gekuier waar hulle hasies vir aandete gekry het.”
Daar is in Gauteng, die Wes- en Oos-Kaap geskiet, vertel Amor. Die meeste gesinne vind dat kennis aanvaarding bring, want mense is aanvanklik bang vir wat hulle nie ken nie. “Ons reënboognasie is gevul met soveel diversiteit, maar so min verdraagsaamheid. Om gesinne met verskillende gelowe, kulture, rasse, seksuele oriëntasies, inkomste, ensovoorts tyd met mekaar te laat deurbring, kan soveel insig bring. Ons wil graag gesinne wat iets het om vir mekaar te bied in terme van hulp of insig met mekaar laat ruilkuier. Soms werk dit uit en gesinne vind mekaar, maar soms lei dit ook tot vuurwerke.”