Wat was die inspirasie agter die program Agter
Tralies?
Meggan: Ons het oor die jare al aan verskeie ware misdaadstories en dokumentêre programme gewerk en wou graag dié keer die storie van die oortreder vertel. Ons wou weet hoekom hulle die dade gepleeg het en wat hulle tydens hul jare in die tronk geleer het.
Riana: Ek was nog altyd verskriklik geïnteresseerd in die menslike psige en het voorheen al baie dokumentêre programme gedoen oor die grensoorlog en hoe dit mense geaffekteer het. Veral in ons land is identiteit ’n baie interessante konsep. En boonop wou ek nog altyd iets rondom misdaad doen omdat ek wou weet wat doodgewone mense dryf om ’n moord te pleeg. Ek praat nou nie hier van reeksmoordenaars en psigotiese mense nie, maar die doodgewone ou – wat het hom laat knak om iemand dood te maak? Ek’t toe gedink: Wat van ’n reeks waar jy self met die mense praat wat agter tralies was? Nie derde partye nie, nie kenners oor misdaad nie, maar die oortreders self. Dis mos baie meer interessant om die storie uit die perd se bek te kan hoor. Ek het Meggan genader, want sy het baie meer ervaring in hierdie veld. Sy’t gesê dit sal wel nie maklik wees nie, maar kom ons doen dit. Ek en Meggan het die konsep saam met die VIA-span ontwikkel. Vir VIA was dit belangrik dat dit stories van verandering moes wees waar mense hul lewens ten goede verander het ná hul vrylating. In die meerderheid gevalle het ons gevind dat daar by hierdie mense baie trauma tydens hul kinderjare was, onafgehandelde kwessies, molestering – dis goed wat gesit en broei het en uiteindelik tot een of ander misdaad gelei het.