Nadat haar verhouding met Gerhard Jansen van Vuuren op die rotse beland het, het Andrea Venter alles in haar vermoë gedoen om van sy vuiste te ontvlug. Sy het ’n beskermingsbevel teen hom gekry, van werk en huis verander, maar tog kon sy nie uit sy web ontsnap nie.
Haar verhaal eindig tragies in 2011, toe sy net 24 jaar oud was. Jansen van Vuuren het haar opgespoor en wreed in haar Johannesburgse woonkompleks vermoor. Én in plaas daarvan om dadelik te boet, het hy dit reggekry om jare lank die gereg te ontduik. Hy het kort voor sy moordverhoor in 2013 na Brasilië gevlug. Dit het jare se ondersoekwerk geneem om hom op te spoor.
In die jongste aflewering van Wie’s Nuus? met Netwerk24 op kykNET gesels die aanbieder, Mia Spies, met Netwerk24 se Hanti Otto en Jana van der Merwe oor die saak. “Dis vir my so hartseer dat sy so lank by hom gebly het,” sê Van der Merwe oor die paartjie se aan-af-verhouding van ses jaar. Vir Otto het dit boekdele gespreek dat Jansen van Vuuren eers bereid was om te getuig nadat hy skuldig bevind is.