Kyk so daarna: In die meer as 50 jaar tussen 1903 en 1956 het die Springbokke nie ’n enkele toetsreeks, tuis of oorsee, verloor nie. Dit is ongeëwenaard in die geskiedenis van die spel, en daardie span van 1937 word boonop toe die eerste internasionale span om ’n toetsreeks in Nieu-Seeland te wen, die enigste Springbokspan nog wat dit kon regkry.
Dis dalk ’n ongewone antwoord, maar die ’37-span kon goed toer. Hou in gedagte dit was destyds nie net ’n heen-en-weertjie wanneer jy oorsee gaan speel het nie, dit was as’t ware ’n ekspedisie van drie of vier maande. Jy het per skip soontoe gereis en moes dan meer as 20 wedstryde speel – Woensdag, Saterdag, Woensdag, Saterdag – met talle treinritte tussenin. Jy kon ook nie plaasvervangers van die huis af laat kom nie, want dit sou vyf of ses weke per skip neem. Die Springbokke van 1937 was veelsydig genoeg om al hierdie dinge te bowe te kom. Danie Craven moes byvoorbeeld agtsteman en losskakel speel. Boy Louw het in elke posisie in die pak voorspelers gespeel – stut, slot, flank, agtsteman en haker.