My vriend Ron vertel my hy het na Amsterdam gevlieg, lááánk voordat al die vlugte afgestel en almal tuis moes bly. Ron het gehoor ’n beroemde wyse man van Korea was daar – ’n Zen-meester – en Ron wou by hom gaan hoor wat hy oor die lewe te sê het. ’n Wyse man sou tog seker weet hoe om in moeilike tye gelukkig te bly.
In Holland aangekom, het Ron koers gekies na die huis waar die Zen-meester gebly het. Amsterdam was op sy grysste en klettertandkoudste. ’n Wind vol yskristalle het oor die Noordsee aangewaai gekom. Die reën het in vaal vlae geval. Triestig verby.
’n Mens kan amper sê die stad was op lockdown weens die weer.